009: Winter 2025 - "Dankie", maar, "Nee, dankie"
- Charl Cowley
- Jul 9
- 5 min read

Ons woon in ’n baksteenhuis met ’n sinkdak. Ons huis staan in die skadu van ’n ongelooflike, majestueuse kamferboom. Nadia se niggie het eens na die boom gestaar, bewonder hoe die lig deur sy blare dans en opgemerk:
“Hierdie boom is alles.”
Kortom, ons is baie lief vir ons boom. Die geneuk kom egter in die winter maande wanneer die flou wintersonnetjie sukkel om deur sy digte top te breek en ons huis in ’n klipharde ysblok verander. Die mure, die kombuisoppervlaktes, heng, selfs die blokkieshoutvloere verander in koue monsters wat die hitte uit enige lewende wese suig wat dit waag om daaraan te raak. Elke kat en mens in ons huis drom saam om die kleinste sonkolletjies in desperate pogings om uit die wurggreep van die monsters te kom en stuk-stuk te verwarm.
Ons huis is nie uniek in hierdie opsig nie. In ander lande word huise gebou om die koudste maande van die jaar te trotseer. Huise word van hout gemaak en hul stokgeraamtes word propvol gestop met insulasie. Dubbel-glaseerde vensters pas knus in hul lugdigte rame. In Suid-Afrika is “maak vuurhout bymekaar vir die wintermaande” ’n mooi gesegde, maar in lande met ysiger klimate as ons eie, is dit ’n saak van oorlewing. Die ironie van die saak is egter dat baie inwoners van ander lande al opgemerk het dat die winters wat hulle in sonnige Suid-Afrika spandeer het, die koudste van hul lewens was, bloot oor die huise nie gemaak is om warm te bly wanneer die koue aanklop nie.
Die afgelope paar weke, is die hele land deur verskeie kouefronte getakel wat die kwik selfs in Centurion na vriespunt laat daal het. Dwarsoor Gauteng sien ek hoe mense hul blomme, bome en beddings beskerm deur lappies oor hul plante te drapeer. Die yorkies en pommies by boeremarkte se winterjassies is ekstra dik en ek het gerugte gehoor dat selfs die boere van die Vrystaat dit begin oorweeg om hul knieë te bedek.
Ja, in Suid-Afrika is ons nie gerat vir die koue maande nie. Vervolgens weet ons ook nie hoe om onsself behoorlik weer te vewarm wanneer die koue getref het nie. Ons sal drie, vier, vyf lae klere om ons bolywe bind, maar steeds net een paar jeans dra. Kaalkoppe sal in die oggende sonder musse staan, sodat jy kan sien hoe die hitte uit hul hoofde slaan. Fietsryers sal met oop handskoene ry en tot September sukkel om weer hul hande – wat in klouvorm gevries het – weer reguit gebuig te kry. Wanneer ons onsself probeer verwarm, is dit soos om ’n lasagna in die mikrogolfoond te ontdooi. Rangskik alles so mooi as wat jy wil, die kaas aan die buitekant gaan gebrand wees, maar die vleis aan die middel gaan nog kliphard gevries bly.
Nie net is die lug so koud dat selfs die kleinste asempies lyk of hulle Vape-wolke uitblaas in die oggende nie, maar dit is ook kurkdroog. Wanneer ek my lyfroom aanwend in die aande, verstaan ek hoekom die ou in die woestyn in die destydse Ingram’s Camphor Cream-advertensie verby die glas water gekruip het en eerder die salf aan sy lyf gesmeer het. Onder ons kamferboom is daar ’n fonteintjie, waarin die plaaslike lysters, vinkies en vlieëvangers baljaar in die somer. In die wintermaande staan dit verlate, want die voëltjies het pad gevat na die noorde. En die water verdamp so vinnig, Tshwane gaan my onder sensuur plaas vir onbehoorlike watergebruik as ek dit elke tweede dag sou volmaak. In die Kaap, daarenteen, is ons landgenote toe onder die water weens meedoënlose reënbuie. Noord of Suid, is die winter in Suid-Afrika ‘n oneweredige gemors.
Daar is ‘n sielkundige toestand wat bekend staan as SAD – Seasonal Affective Disorder – wat beskryf hoe mense hartseer word wanneer die wintermaande kom. Dit is ‘n tipe depressie wat plaasvind wanneer ‘n mens minder blootstelling aan natuurlike lig het en seisoenale veranderings in ons sirkadiese ritmes kan die hopelose gevoel vererger. My Afrikaans-onnie van my Matriekjaar het ‘n uniform gedra. Sy het ‘n paar wit tekkies, ‘n sweetpak en ‘n enorme bril gedra waardeur sy vir ons gestaar het soos sy die digkuns van D.J. Opperman aan ons probeer oordra het. Sy het haar uniform dwarsdeur die jaar gedra. Of dit sonnige Interhuis-atletiek in Januarie was, en of die ysige poolwind-monsters in Julie hul kloue in haar klaskamer probeer dwing het, het sy haar sweetpak gedra. As jy dit gewaag het om jou oor te gee aan SAD en in haar klas en gekla het oor die weer – hetsy te warm of te koud – het sy jou gepreek:
“Julle is nooit tevrede met die Here se handewerk nie. Nou is dit te koud. Môre is dit te warm.”
Wat sy egter nie in ag geneem het nie, is dit ons as millennials grootgeword het in ’n wêreld waar ons alles kan personalize. Toe ek klein was, kon ek polifoniese luitone aankoop om my eerste selfone uniek te maak. Ek verstaan nie ’n wêreld waarin ek vir ’n DStv pakket met eindelose herhalings, ’n vaste skedule en beperkte kanale moet betaal as ek deur stroomplatforms die hele wêreld se vermaak deur my oogballe op my eie tyd kan inneem nie. Ek luister al vir jare na potgooie en Ted-talks wat vir my sê hoe oulik ek is en hoe ek verdien om die wêreld te vervorm na my smaak. Die wêreld is my oester – is ek geleer.
Daarom voel ek baie sterk daaroor dat ek graag my intekening (of subscription – kômmin Afrikaanse uitspraak: sap-skrip-shin) tot Winter 2025 wil kanselleer. Ek wil graag ten volle vergoed word vir die fisiese en emosionele pyn wat deur hierdie nare seisoen veroorsaak is. Ek vereis dat ek iewers in die Noordelike Halfrond geplaas word – verkieslik naby die Mediterreense See met ’n drankie met ‘n sambreeltjie – totdat die eerste reëns geval het, die lug weer ’n droesempie vog bevat en die gras nie meer die kleur en tekstuur van bros, vervalde Weet-Bix is nie.
Meeste van alles, wil ek onder my majestueuse kamferboom kan sit en voel hoe die son oor my vel dans en my eweredig verhit. In Oktober en November gaan ek dalk weer ontevrede wees wanneer die kwik naby 40 grade celsius gaan draai – en daan gaan ek my sweetpakdraende Afrikaans-onnie weer in my geestesoor hoor – maar vir nou wil ek net vir ‘n oomblik weer ervaar hoe dit voel om ‘n warm midrif te hê en terselfdertyd gevoel in al tien my tone te hê.
Ek is immers nie ‘n mikrogolf-lasagna nie.
Comments