top of page
Search

012: Om te stap saam met 'n luiperd

  • Nov 17, 2025
  • 8 min read

Updated: Nov 18, 2025

In 2019, drie jaar nadat ons die lieflike Strandloper-staproete op die Wildekus gedoen het, is ek en my vrou, Nadia, genooi om die tweedag Baviaanskrans-staproete in die Kgaswane-natuurreservaat net duskant Rustenburg te voltooi. Met ’n nuwe stapsak propvol lekker kos, het ons saam met ons goeie vriend, Simon Dey – ’n gesoute stapper in eie reg – op die N4 in ’n westelike rigting uit Pretoria geklim en by ons mede stapmaats aangesluit. By Kgaswane gekom, het ons ’n nare verrassing teëgekom toe die amptenare ons in kennis gestel het dat ons nie water vir die twee dae op die roete sou vind nie weens munisipale probleme. Hulle het vir ons water in groot kanne aangery en ons het onsself tuisgemaak in ’n hut terwyl die bobbejane in die kranse om ons geblaf het en ons herinner het waarom die roete Baviaanskrans genoem word. Daar is ook vir ons gesê om versigtig te wees in die aande, want daar is glo luiperds in die park. Ongeërg het ons ’n gesellige kuieraand afgesluit met ’n lekker rondte 30 Seconds.


Die volgende oggend – ons eerste een van stap – het ons ’n ontbyt van oorskiet braaibroodjies geniet en teen die steiltes begin steier met ons swaar sakke. Na 3 jaar sonder sakke stap, is dit ’n swaar gestoei wees en is ons al te dankbaar gewees toe ons na 5km weer kon rus en nog braaibroodjies eet. Na ’n steil afdraende het ons langs die Waterkloofspruit  – wat sy oorsprong bo in die reservaat het – gestap en sommer gou weer gerus. Lank genoeg vir ’n lekker koppie koffie oor 'n gasstofie. Daarna het steil opdraendes gevolg met nog steiler afdraendes. In die droë bosveld, waar geen droesem reën vir maande geval het nie, het ons gereeld gegly. Stofwolkies is opgeskop en daar is gereeld klein krete uit ons stapgeselskap gewees soos ons skrikkerig vir die afgrond loer na ’n gly-insident. Na ’n lang wandel deur ’n beboste vlakte, het ons by ons hut vir die aand gekom.

Dis ’n aangename versameling koepelhuisies beskut in ’n natuurlike bos met ’n lekker groot kuierarea. Nadat ons die ergste stof afgewas het met ons gerantsoeneerde water, het ons begin kosmaak, weer 30 Seconds gespeel en kort voor lank is dit slaaptyd gewees.


Hier is een van die waarhede van ’n stapgeselskap: daar is altyd iemand wie ander se slaap versteur. Dis nie aspris nie, maar dis ’n feit soos ’n koei dat iemand aan een of ander slaapsteurnis ly. Met die Strandloper het ek in ’n stapelbed onder ’n persoon geslaap wat “night terrors” kry. Ek het dit eers geleer nadat ek in ’n diep slaap verval het en gedroom het van swem saam met dolfyne langs die Wildekus. Skielik is ek uit die rustige droomland geruk deur ’n histeriese geskreeu reg bo my. Die arme drommel het eers kalmeer nadat iemand hom wakker geruk het. Ek het myself wit geskrik en ’n punt daarvan gemaak om so ver as moontlik van die stapper te slaap vir die res van die roete. Op die laaste nag van die stap het hy weer ’n episode gehad en ander lede van die groep is die volgende oggend met groot verkskrikte oë huis toe.


In ons Kgaswane-geselskap het ons ’n snorker gehad. Ek praat nie hier van iemand wat per ongeluk ’n snorkie gee as ’n sinus hom pak of te lank op sy rug lê nie. Ek praat hier van ’n man wat so erg balke saag dat die versteende vlermuismis in die staphut  se dak liggies in ’n waas neerreën. En dis ook ’n waarheid van ’n stapgeselskap dat die slaapversteurder eerste aan die slaap sal raak. So gebeur dit toe. Ek, Nadia en Simon het die kortste lootjie getrek deurdat ons toe in dieselfde koepelhut as die man slaap.


Die ding met slaap saam in die omgewing van ’n bobaas-snorker is dat jy jouself probeer oortuig dat die situasie nie so hopeloos as wat dit werklik is nie. Jy probeer allerhande tegnieke om jou ore toe te druk sonder sukses. Eers probeer jy ’n vinger in die een oor druk en dit werk vir ’n rukkie tot jy begin wegsluimer en die vinger in die slaap verslap en uit jou oor val en jy weer van voor af moet begin. Na so ’n paar mislukte pogings, probeer jy ’n kussing maak van die ekstra klere in jou stapsak. Jy maak dan ’n hamburger van jou kop met jou kussing en die ekstra klere as die broodjies. Dit werk ook net vir ’n rukkie totdat die patty wat jou kop is, te gaar begin word en jy eers weer moet asemskep en afkoel. Ten einde laaste, begin jy passief-aggressief sug en so hard as moontlik omdraai in die hoop dat die geritsel van jou slaapsak die snorker uit hul doodslaap sal ruk. Al effek wat dit het, is dat jy jouself so opwerk in die poging om geraas te maak dat jou hartklop styg en jy die bloed deur jou kop hoor suis tussendeur ’n besondere harde snork.


Simon en Nadia het ook na ’n ruk hierdie laaste tegniek begin gebruik en na ’n snork wat halfpad vasgesit het en toe ontplof het soos die turbo van ’n warmgemaakte Golf GTI het ek besef dat die situasie nie redbaar is nie. “Ek’s uit”, sê ek vir Nadia soos ek my slaapsak, matras en kussing na buite sleep om in die kuierarea te gaan slaap. “Maar dalk is daar ’n luiperd”, fluister Nadia toe vir my. “Ek vat maar eerder my kans met ’n luiperd as nog een oomblik van dié lyding.”, sê ek en maak die deur met ’n kraak oop om in die donker nag in te stap. Na ’n paar minute kom Simon uit, “Nee, flippit, dis te erg.”. Hy is skaars in sy slaapsak toe die deur ’n derde keer kraak en Nadia haar matras langs my kom neersit met ’n frustreerde sug. Die snorke is steeds hoorbaar van buite, maar dis nou ’n sagte dreuning wat meng met die sang van krieke en laatnag Rustenburg verkeer wat deur die klowe dryf. So sluimer ons toe in. Salig.


Dis egter nie ’n diep slaap nie en kort voor lank skrik ek wakker van ’n gekraak. Is dit nog ’n stapper wat hênsop van die snork? Ek druk myself op my een elmboog om beter te hoor: of is dit ’n luiperd? My hartklop versnel en begin so agter my oë klop. “Sjoeshhhh”, beveel ek my hart, maar dié versnel en sit toe sommer ’n basdrom in my borskas by toe ek weer ’n kraakgeluid hoor. Ek hoor Nadia fluister langs my, “Wat was dit?”. Nog ’n kraak, die keer die onmiskenbare knars van ’n katvoet op ’n droë winterblaar. Dis een te veel vir my “veg-of-weg”-instink. Ek stoot die basdrom in my borskas opsy, haal diep asem en besluit dat as ’n luiperd my vanaand eet, hy eers self bietjie gaan skrik. Ek skree, in my beste bariton-brul: “AAAAAAAAAAAAHHHH!” Ek neem aan Nadia sien wat ek hoor en sy volg met ’n sopraan: “AAAAAAAAAAAAAAHHHH!” En Simon, met 'n toon tussenin, vorm ’n dissonante drieklank: “AAAAAAAAAAAAAAAAAHHHH!”


Ons haal almal gelyk asem en kyk mekaar in mekaar se pieringvormige oë, en gee nog ’n luidkeelse, “AAAAAAAAAHHH!”. Simon se lang kuif hop soos hy skree, Nadia se skreeu maak sommer ’n botoon wat ’n hond sal laat kerm en ek spartel om my knieë uit my slaapsak te kry. Ons gee elkeen nog een laaste, “AAAAAAAAAHH!” en ons kom tot verhaal in die donkerte.


Daar is geen luiperd nie. “Wat de flip was dit?!”, vra Simon, wie salig diep geslaap het voor ek alle hel laat losbars het. “Ek dog dis ’n luiperd”, sê ek hees. “Ek het geskree want jy het geskree!”, sê Nadia. Ons haal weer asemhaal en toe begin ons lag. Ons lag dat die trane van vrees in trane van vreugde verander. Dit was toe “much ado about nothing”, soos Shakespeare sou gesê het. As daar ooit ‘n luiperd was, het die dier beslis spore gemaak eers weens die geskreeu en toe weens die onophoudelike gelag. As enigiemand ons moes afgeluister het, het hulle ons dalk aanbeveel vir ’n besoek aan ’n psigiatriese saal vir die skielike ommekeer in emosies. Na ons gelag het tot ons gekramp het, het ons mekaar gevra: “hoekom kom kyk niemand anders of ons OK is nie?” en sonder om te veel te wonder, verval ons in ’n rustige slaap, vol vertroue in die wete dat geen luiperd dit naby ons kamp sou waag nie.


’n Paar uur later staan ek, Nadia en Simon relatief verfris op al het ons seer maagspiere en hees stemme. Ons snorkende stapper is besonder beïndruk deur hoe diep hy geslaap het. Hy het ook toe wraggies die moed om te kla dat ons almal op ’n stadium baie hard in ons slaap omgedraai het en hom gepla het. Ons swyg eerder en gooi ons sakke op ons rûe en durf dag twee van die Baviaanskrans-roete aan.


Die tweede dag van die Baviaanskrans-roete volg ’n algemene opwaartse trajek soos mens die Waterkloofspruit herhaaldelik kruis. Na ’n besondere lang klim, is mens bederf met ’n wonderlike uitsig van ’n waterval. Na nog geklim, het ons in die skeur van ’n klip, met ’n uitsig in die rigting van Johannesburg, soet koffie op ons gasstofies gemaak en die laaste klim van die dag aangepak. Dis hier waar ons een van die lekkerste lekkers van ’n meerdaagse stap ervaar het.


Wanneer mens ’n stapsak vir ’n paar dae aantrek, is daar altyd ’n oomblik iewers in die stap waar die hele geselskap onbeheersd gaan lag. Dis asof die moegheid en lyfseer van jou swaar sak dra, meng met die euforie van vars lug en blootstelling aan die natuur. Hierdie mengsel van omstandighede lei tot ’n uiting van genot in ’n lag wat nie na reg verduidelik kan word nie. Soos ons teen die langste, steilste bult van die dag op gesukkel het, het die lag ons beetgepak. Waaroor ons gelag het, kan ek nie onthou nie en sal ook nie nou meer so snaaks wees nie. In die oomblik het ons almal aan ons stapstokke vasgehou vir asem en so met seer gelagte wange onsself to bo-op die Magaliesberge getrek.


Na die lekker lag, het lekker huil gevolg. ’n Ander gegewe op ’n meerdaagse stap is dat die geselskap gaan verdwaal. In die gelag het ons die pad byster geraak en teen ’n berghang begin afskuifel toe ons tot verhaal gekom het: dit kan nie reg wees nie. Jare later het ek by ’n vriend gehoor dat daar eens ’n veldloop (trail run) wedloop in die reservaat was. Die vriend het voorgeloop in die wedloop en het op min of meer dieselfde plek van ’n lysie afgespring en besef hy kan nie vorentoe of agtertoe nie. Daar aan die kant van die Magaliesberge, het hy hulp ontbied en moes ’n paar senutergende ure spandeer en wag vir ’n bergreddingspan om hom te kom help. Ek dink nie ons is ver van ’n soortgelyke lot gewees nie. Gelukkig het ’n paar ander maats stadiger gestap, met ons opgevang en vir ons die pad aangewys.


Kort hierna het ’n laaste stap tradisie gevolg. Op die punt wat almal lekker gatvol gestap is, sal daar altyd een drommel wees wat sê: “Dis nie nog so ver nie, ouens. Seker nog ‘n kilometer.” Wat daarna volg, is gewoonlik ’n twee uur lange sloeg deur bosse en stille verwensings van die sotlike siener. Ek is ongelukkig die persoon gewees wat die woorde geuiter het en moes maar mooi jammer sê na ons deur ’n stowwerige kloof gesukkel het om by ons karre uit te kom. Daar was steeds nie water nie, so ons het maar net so met ons stoflywe in ons karre - wat deur bobbejane bemors is in ons afgwesigheid - geklim en middagete by 'n Steers op die N4 geëet terwyl ons terugkyk na die bergreeks wat ons die voorreg gehad het om te verken.


Die Baviaanskrans-roete in die Kgaswane-natuurreservaat is ’n uiters aangename en kwaai uitdagende stap gewees en een wat ek ten sterkste kan aanbeveel. Ek sal wel net aanbeveel dat jy oorpluisies inpak indien jy ook ’n snorker in jou stapgeselskap het. Pak ekstra waterbottels indien julle ook gerantsoeneer gaan word. Maak reg vir baie bulte. En belangrikste van alles: Ek sal jou ook aanraai om reg te wees om diep te bulder indien jy, soos ons, paaie kruis met ’n “luiperd”.

 

 

 
 
 

Recent Posts

See All
013: 33 things at 33

It's my birthday! I've been saying I feel old since I was 17 years old. The feelings of oldness stem from the fact that I've been stuffing my life chockful of experiences since that age. I rarely give

 
 
 

Comments


Drop Me a Line, Let Me Know What You Think

© 2035 by Train of Thoughts. Powered and secured by Wix

bottom of page